18 Jun. 2011

Wat die Hart van vol is



Loop die mond van oor. Ek voel heel heldhaftig en skryf in vir die Bloemfonteinse Skrywersvereniging se kompetisie, en daar wen my kortverhaal " 'n Dag in Junie" 2de plek in die kategorie vir reeds gepubliseerde skrywers. Ek moes teen wil en dank in die kategorie saam met die groot indoenas inskryf, want sien, ek het mos 'n jaar of tien gelede 'n paar storietjies verkoop.
Dankie tog Katrina het al jare op die verbrande plaas gesit en wag dat ek haar storie die wêreld in moet stuur!
Maar op 'n ernstiger noot. Hoe snaaks draai die ou aarde van ons. Ek sou nie eens van die wedstryd geweet het nie, maar ek smee toe 'n Facebook vriendskap met 'n oud Suid- Afrikaner in Kroasië, Gloria Smolcic. Ek en Gloria maak allerhande globale praatjies, en vind toe uit
a) dat sy ook 'n nooi Jordaan was, nes ek,
en b) dat sy 'n aangetroude familielid het wat 'n regte skrywer is. Sy stel my toe so met FB saam voor aan Christa Jonker Jordaan, wat op haar beurt sê "Hier is die kompetisie besonderhede, skryf in!" Ek krap toe in my ou rekenaar se geheue rond, en sowaar, daar staan Sagrys, Katriena, en die kleine Gideon vir my en wag, op hulle verbrande plaas, op 'n wintersdag in Junie. Vinnig vorentoe na die 4de Mei my pa se verjaardag, en ek besef my inskrywing moet per slakkepos gestuur word en daar wees op die 6de Mei (my Ouma Susie se verjaardag). Ek stuur vir Christa 'n boodskap en se o wee, ek is te laat, en sy sê vinnig! Vul die vorm in, e-pos dit saam met jou storie, en ek gaan lewer dit persoonlik vir jou af.
Ek wou vir Christa 'n koek vat, as ek ooit in Bloemfontein sou kom. Om te se dankie. maar ek sal nooit die voorreg he nie. Want  Christa is op die 18de Mei oorlede, in 'n motorongeluk, op pad na die geboorte van 'n kleinkind.

NS 2016/10/07  In 2012 is Gloria Hemel toe, waar die liefde van haar lewe, Zeljko, reeds gewag het. En Ouma Susie sal helaas nie meer op 6 Mei hier op aarde haar verjaardag vier nie. Sy is op 10 Julie op 94 uiteindelik Huis toe. 
Die storie wat ek ingestuur het, is hier te lese.

09 Jun. 2011

Op hierdie dag

66 Jaar gelede is my liewe Moeder gebore, die oudste van drie kinders .

Winter

Dit was vandag ysig koud. Gelukkig het Stefan nie geskryf nie, so ons kon knus binne bly. Dis juis wanneer dit so bitterlik koud is dat ek bewus word van hoe bevoorreg ek werklik is. Hier is my dankbaarheidslysie vir vandag:

1) Dat ek nie vroeg uit moes gaan nie
2)My goeie bed met pragtige lakens en warm komberse
3) Warm klere
4) Dat ek soveel warm drankies kan maak as wat ek wil
5) 'n Stoof waarop ek 'n warm maaltyd kan kook.
6) Dat ek alles het wat ek nodig het om 'n voedsame ete te kook
7)Dat ek 'n huis het met mure, en 'n dak, met deure en vensters wat dig sluit
8)Warm badwater, uit 'n kraan.
9)Dat daar vir my 'n warm rug is waaragter ek kan inkruip
10) Dat ek weet almal vir wie ek lief is slaap vanaand warm