29 Nov. 2011

Kyk solank hier


Dit was Saterdag 'n blinkskoon, windstil dag. 



 Die koek was iets uit 'n ander wêreld.


En die kaalvoet bruid die mooiste wat ek nog gesien het. Ja, ja, ek weet dis my dogter- maar lyk dit nie of sy uit 'n skildery ontsnap het nie? 

Hierdie foto's is net 'n voorsmakie- sodra ek almal gekry het sal ek  volledig verslag doen! 







18 Nov. 2011

Ek is nog hier



as iemand my al gemis het. Laasweek het ek en my masjien 'n heerlike dag saam spandeer. My meisiekind hou vreeslik baie van bak en kook, toe besluit ek om vir haar ietsie aan mekaar te slaan:


Die aanhaling wat ek daarop borduur het, kom uit een van haar gunsteling boeke, "Emotionally Weird" deur  Kate Atkinson.


 
 







Voordat julle met my raas, omdat ek afdwaal: 
die trourok is klaar, ek moet nog net 'n paar handwerkies daaraan doen. Ek het vanoggend die nate omgekap, en my baadjie gemaak. 




En gou-gou die res van die voorskootmateriaal omgesoom vir 'n nuwe tafellap.





07 Nov. 2011

Ek voel olik.

Niks ernstigs nie, net 'n nare, gemene somerverkoue wat my neus laat water, my kop wollerig laat voel, en my keel krap. 
Ek nies en hoes en proes. Ek kry koue rillings. Dit voel of my oë vol sand is. Ek verlang na my ma. Daarom gaan ek in die middel van die dag in die bed klim. Want ek het soos die oumense sou sê, ek het 'n paar swak longe aan my, en as die verkoue eers in my bors ingetrek het, is dit nag. Ek gaan sommer nou my slapies aantrek, en 'n pilletjie drink. 

Die katte, die bibmandjie



en 'n koppie tee, en 'n heerlike plaatkoekie wag al vir my.