21 Apr. 2012

Die aap uit die mou



Ek het verlede week belowe ek sal wys waat 'n klomp van my hekelblomme groei. Dit groei hier:




rondom  'n gehekekelde sak




Voor

 
 agter

 Dit het bobbels (ek weet nie of daar so 'n woord in Afrikaans bestaan nie) aan die punte van die toetrek toutjie,








en 'n vrolike voering,

 
 sodat klein goedjies nie uitglip nie.

 Die sak is nou Maritza ('n splinternuwe vriendin) sin. Sy het 'n klein ou dogtertjie met krulhaartjies en blou ogies, Lisa, aan wie hierdie handsakkie nou behoort:



Die handsakkie het 'n geheklede bandjie:






en 'n hartjie-knopie wat dit toehou:





Die voëltjie


 en die blommetjie
 kan afhaal, sodat Lisa dit op 'n truitjie of hoedjie of so-iets ook kan sit.  Dis met sulke klein plastiek speldjies vas:

 

Die speldjies is eintlik steek-merkers maar hulle werk uitstekend vir goedjies op kinders se truitjies of mussies ens. want hulle is onder andere nie skerp nie en hulle maak stewig toe.

Dis dan my storie van vandag. Ek is besig met 'n knippery  en 'n stikkery  en 'n breiery (my stoflap lê verlate in 'n laai en my besem sug in die besemkas)  maar daarvan vertel ek julle volgende week.


14 Apr. 2012

Ek was besig besig besig

♩ ♪ ♫ ♬ ek was  vreeslik, vreeslik besig, ek was besig besig besig om te werk♩ ♪ ♫ ♬...


Onthou julle nog die liedjie oor die mier wat ons gesing het toe ons klein was? Ek was só bedrywing, maar nie soos julle miskien sou dink met my stoflap en besem, of my koekroller en panne, of selfs met my stapels boeke en penne en rekenaar nie. Ek was besig met my gunsteling penne, my hekelpenne! Ek het 'n hele tuin gehekel, sommer net omdat ek beter is met wol blomme as met regte blomme, en my siel het 'n behoefte gehad aan iets fleurigs. 




 

  Hierdie klein ou blommetjies is so vinnig, jy kan 'n hele bedding vol maak terwyl jy 7de laan se kyk.




Hierdie groei teen iets wat ek binnekort sal onthul.


En geen blomtuin is volledig sonder 'n voëltjie nie! Dié outjie het hartjie vlerkies, maar my kamera vaardighede laat veel te wense oor. 

Net voordat julle dink ek speel net, hier is iets deusaam ook. Ek het hierdie vervelige bruinerige ou t-hemp, wat perfek by een van my gunsteling rompe pas:


Sien, totaal oninspirerend. En die hals is heeltemal te laag. My skugter boesem moet wegkruip vir al wat dit werd is as ek dit aan het. Toe bedink ek 'n plan. 


 

Dis sommer vinnig om die kragie te hekel, en ek het 'n ou knoop met die selfde gare toegehekel. Nou moet ek dit nog net vaswerk, dan het ek 'n nuwe uitrusting.
  

So gesê, so gedoen. Ek sal binnekort die kat uit die sak laat oor sommige van die boonste blomme.

06 Apr. 2012

Sommer 'n lysie


Ek het gistraand laat gou 'n lysie gemaak van al die dingetjies wat daagliks in die kombuis gedoen moet word sodat daar nie dispute in ons huis onstaan nie. Almal se huisreëls en roetines is natuurlik uniek, maar ek deel graag ons sin, as iemand dalk hande in die hare nie weet waar om te begin nie.



Hier is vroeëre medewerkers in my kombuis.

Die enetjie met die lang poniestert en 'a woman's work is never done' uitdrukking het nou haar eie kombuis, en die engeltje met die goue krulle is nou my (karig) betaalde kombuis-assistent. Hy is welliswaar nie meer so entoesiasties soos op die foto nie, maar studente is arm en geld is geld:)

En hier is die beloofde lysie:


Kombuisroetine

1.    Maak klein wasbakkie vol warm water.

2.    Ruim werksoppervlakte een op ‘n keer op
     - vuil skottelgoed by skottlegoedwasser
-         bêre los goed

3.    Pak skottelgoedwasser, sit aan as dit vol is.

4.    Maak oppervlakte skoon en droog.

5.    Neem skille-emmertjie uit- spoel uit indien nodig (Ons het 'n kompos-hoop)

6.    Was oorblywende skottelgoed.

7.    Droog skottelgoed af en pak weg.

8.    Pak skottelgoedwasser uit as dit klaar is.

9.    Vee kombuisvloer.

10.           Neem asdromsak uit as dit vol is.

11.           Maak wasbakke en krane skoon en droog.

12.           Hang vuil vadoeke buite om droog te word, en haal skones uit.