25 Jul. 2014

Strepe Lekkerte

Die streepkombers is aansteeklik. 


Vriendin Melanie het dit by haar buurvroue aangesteek, ongelooflik vinnig geleer hekel, en dit aangedra om vir my te kom wys hoe sy vorder. Julle weet hoe vatbaar ek is vir sulke baldadighede. Voordat jy kon sê 'hekelpen', is ek ook oorval, en drie weke en drie seisoene van een van my gusnteling stories later, was my kombers klaar. Ek plaas baie foto's om sodat julle die verskillende patrone mooi kan sien.

Ek het double knit wol gebruik, en 'n 4.5mm hekelpen.Ek het geen idee hoeveel kleure ek gebruik het nie.



 




Sodra 'n mens verveeld raak, begin jy met 'n nuwe steek/patroon en kleur.








Die bobbeltjies is my gunsteling. Mens moet net die bobbelsteke mooi styf trek om dit goed te laat uitstaan, en ek het in die later rye 5 langebene in elke bobbeltjie gemaak, i.p.v. net vier.






Hier is geskrewe ry-vir-ry aanwysings met of sonder foto's, om hierdie plesierige kombers te hekel. Ek het 193 steke gehekel, en dit pas op my dubbelbed, maar sonder oorhang. Die aanwysings is duidelik, en meestal maklik. Lees dit net baie mooi. Ek het nie die patroon op die letter gevolg nie, net naastenby, en aangehou totdat die kombers so lank soos ek is. Die enigste wenke wat ek het is:

1) Tel na elke patroonry jou steke, sodat jy dit kan regmaak. Ek het in die half-langbeen of langbeenrye vermeerder of verminder as dit nodig was.
2) Maak seker dat jou bobbeltjies aan dieselfde kant is, deur 'n ekstra ry langbene of half-langbene as dit nodig is.
3) Vir die Catherine Wheel moet jou spanning baie los wees. Ek het in my later rye daarvan ook dan oorgeslaan na 'n nr 5 hekelpen.
4) Werk soveel moontlik wolletjies in soos jy aangaan, anders gaan dit ure neem na die tyd. Ek het 'n omvou rand gedoen, wat die wolletjies wegsteek, soos Little Woollie. Dis 'n paar rye kortbene, wat omgevou en vasgewerk word. Dit lyk heel netjies:






 

Is dit nie mooi nie? Op Ravelry is daar ook 'n skakel na die patroon, en jy kan na ander komberse ook kyk. Is jy ook lus om een te hekel? Laat weet my, en ook as jy reeds deur die gogga gebyt is. Ek sal graag joune wil sien.



 

Groete van huis tot huis!

23 Jul. 2014

Sakke vol plesier, en 'n hasie

Ek was lanklaas hier, ek weet. Maar onthou ek het lank terug vertel ek hiberneer? Dis wat ek maar elke winter doen. My Brombeer is terug van Praag af, en dis so lekker om weer snags 'n groot, knus lyf langs my te he.  My hart was die laaste paar maande stil, maar my hande besig. As jy wonder waarheen ek maande aaneen verdwyn, ek sit in 'n sonkol,



en  knutsel.


 Hierdie hasie 


 


het haar rokke ingepak


 


en by  drie-jarige Mia gaan bly. 


Hasie, hoekom is jou stert so kort?




Baie ordentlik, met wit onderklere: 


 Vir oulaas het sy geposeer vir foto's:







Ek mis haar vriendelike baldadigheid op my tafel, maar sy het 'n klein hartjie baie bly gemaak. 


Mia se groot sussie, Carli, het 'n handsakkie gekry:



 Vriendin Melanie het ook een gekry, vir haar Europese reis, omdat myne vir my so handig was:


 


met sakkies vir alles en nog wat





 'n geruite voering,



 en 'n lang band sodat sy dit skuins oor die lyf kan dra.



 Dit was vir my so lekker om die handsakke te hekel, nog 'n dogtertjie het een as verjaardaggeskenk gekry.






met die uiltjie-motief waarvan ek so baie hou:


 


'n Vriendelike pienk knoop





 'n vrolike kolletjies voering.


en 'n bont band.



 

Ek maak die handsakkies van ouma-blokkies, sonder 'n patroon. Die motief vir Melanie se handsak het ek op Pinterest gesien, maar die skakel na die patroon werk nie, so ek het maar net van die foto af gehekel. Die hasie is ook 'n verbeeldingsvrug.

Natuurlik is dit nie die einde nie. Volgende keer vertel ek julle meer hiervan,



maar vir vandag is my storie eers uit. Groete van huis tot huis!