26 Nov. 2015

Ek dink terug aan Rome: Keats en die Spaanse trappe

Toe ek teruggekom het van Rome af, moes ek dadelik skouer aan die wiel sit en my boek klaar skryf. Dis  uitgewers toe, en gelukkig het Cecilia daarvan gehou. Nou wag ek net vir 'n verslag, sodat ek kan begin oorskryf. Intussen het ek oornag weer in 'n huisvrou verander, en ek bak, slag en karring. Nee, darem net by wyse van spreke. Ek bak en kook, pak reg, skrop en was te heerlik. Hierdie jakkals het miskien van hare verander, maar nie van streke nie. Maar ek dwaal af. Waar was ek nog laas? Ah, Rome ... Vandag vertel ek graag van die Keats en Shelley museum. Onthou jy die Babingtons Teekamer waarvan ek hier vertel het? Hierdie Museum is  aan die ander kant van die Spaanse Trappe, net verby die ingang van die Spagna Metrostasie.


"A thing of beauty is a joy for ever:
Its loveliness increases; it will never
Pass into nothingness; but still will keep
A bower quiet for us, and a sleep
Full of sweet dreams, and health, and quiet breathing."


Die aanhaling is uit die eerste strofe van Keats se Endymion. Uit al sy werk vind ek die meeste aanklank hierby. Dit spreek tot my versugting om mooi dinge om my te hê. 

Die besoek aan die Keats and Shelley House het my besonder diep geraak: dit is die huis waarin Keats op die bitterjong ouderdom van 25 aan tuberkulose oorlede is.

'n Skildery van Keats wat in die museum hang.


Dis 'n indrukwekkende versameling memorabilia, briewe, manuskripte en skilderye van John Keats en Percy Shelley wat te sien is in hierdie onpretensieuse gebou digby die Spaanse trappe. Wordsworth, Robert Browning en Elizabeth Barrett Browing, Oscar Wilde en ander word ook hier verteenwoordig.  





'skuus, my fotografie is bedenklik, maar ek wou die oorspronklike plafonne wys.


Ek sal nie uitbrei op die geskiedenis van die museum nie, gaan lees dit hier. Terug na Keats. Hy het in November 1820 Rome toe gekom in die hoop dat die warmer klimaat sy gesondheid sal verbeter, saam met 'n vriend, Joseph Severn, 'n skilder. Hulle het twee vertrekke in die huis gedeel. Severn het Keats getrou verpleeg,  maar vir Keats was dit te laat. Hy is in Februarie 1821 oorlede.


Wat my terugbring na die Spaanse Trappe. Dis wat Keats elke dag gesien het, uit sy kamer. 

 

Hy was te siek om die res van Rome te ervaar.  Iemand met 'n siel wat skoonheid so kon waardeer ... Hartseer, nie waar nie?



 Hierdie is 'n borsbeeld van Shelley. Sy gedig The Indian Serenade is vir my so mooi. Hier is 'n stukkie daarvan:

-Oh lift me from the grass! I die! I faint! I fail!
Let thy love in kisses rain
On my lips and eyelids pale.
My cheek is cold and white, alas!
My heart beats loud and fast;—
Oh! press it to thine own again,
Where it will break at last. 

Percy Shelley was 'n vrydenker, en het baie kontroversie veroorsaak. Hy en sy gesin het in 1818 na Italië geimmigreer, en hulle het in verskeie stede gewoon. Toe hy hoor van Keats se siekte, het hy hom genooi om by hulle huis in Pisa te kom aansterk, maar Keats en sy versorger en vriend, Sevrn was reeds op pad Rome toe. Hy is baie diep geraak deur Keats se dood. Shelley is net voor sy dertigste verjaardag in 1822 aan die kus van Italië dood.


Ek het lank deur die museum gedwaal, en 'n groter gewydheid ervaar as in baie glorieryke kattedrale. Miskien is dit omdat ek so lief is vir boeke, vir die geskrewe woord. Miskien is dit oor die reuk van hout, of die stilte bo-kant die gedruis op die plein daaronder. Wat die rede ook mag wees, ek is bly ek het die absolute Engelsheid in die middel van Rome ervaar. En natuurlik het ek daarna gaan tee drink om my ervaring alleen te sit en herkou.

Spaanse trappe

Ek is die rooi kolletjie op die trappe. Dit was vroegoggend wat ons daar was, voor die mensemassa daarop toegesak het.


Hierdie monumentale stel van 135 trappe is gebou met fondse wat Franse diplomaat\ Étienne Gueffier in 1723–1725 bewillig het om die Bourbon- Spaanse ambesade en die Trinità dei Monti kerk bo aan die Palazzo Monaldeschi daaronder  te koppel. Die trappe sou oorspronklik na die kerk vernoem word, maar dit is op die ou end vernoem na die plein onder die trappe, Piazza di Spagna, wat so genoem omdat die Spaanse ambassade daar naby was. In die sewentiende eeu was die plein Spaanse gebied.



Gaan soek gerus na beter foto's van die trappe. Daar is baie mooies. Net 'n wenk as jy Rome wil besoek: dit is besig. Ek is op verskillende dae by die trappe verby, en daar is altyd massas mense daarom en daarop. Ons moes soms deur die massa beur om aan die anderkant van die plein uit te kom. Dis 'n nagmerrie vir iemand soos ek wat aan kloustrofobie ly. Vroegoggend is dit ongelooflik stil en vreedsaam, en dis heerlik om Rome te sien wakker word.

Dis my storie vir vandag. Daar is nog baie te sê oor Italië, en ek gaan die volgende paar dae vir julle meer vertel en wys. 

Groete van huis tot huis.


24 Sep. 2015

Orvieto, 'n dorp bo-op 'n heuwel

Vandag neem ek jou saam Ombrië toe.  As jy nie gewoonlik op die skakels wat ek plaas klik nie, doen dit asseblief vandag. Ons kon nie 'n foto kry van die hele dorp nie, en dis gewis iets om te aanskou.

Skaars 'n uur en 'n half van Rome af, verrys Orvieto uit 'n berg. Die woord majestieus is hier nie geyk  of oordrewe nie. Dit begin skaars om die dorp te beskryf. Om by die ou dorp te kom, moet jy die steilte uitklim, of so 'n tipe kabelkarretjie neem tot bo.

Om te sê dis 'n ou dorp, is nie akkuraat nie. Dis nie oud nie, dis werklik antiek, en dateer uit die Etruskiese tydperk.




 Iemand se binnetuin! Ek wens ek kon daar sit en tee drink. Sug.


Ons kon nie 'n mooi foto van die katerdraal kry nie, want hulle was besig met verbeteringe. Die strepe is nie op die mure geverf nie, dis so gebou in wit travertyn (bestaan daar so woord?) en swart basalt.

 Die katedraal binne.

En nog 'n kerk.


Asof die beeldskone behoudheid van die dorp nie genoeg is nie, asof die antieke geboue, die lieflike katedraal en stegies op 'n manier nog te kort skiet, is daar 'n doolhof grotte onder die dorp, waarvan ons 'n begeleide toer gedoen het.
In hierdie ondergrondse stad is daar tonnels, putte, trappe, delwerye, kelders, versterkte kamers, ontelbare nisse, onverwagse gangetjies wat stories vertel van verskillende gebruike deur die eeue heen.  Baie huise het toegang tot die grotte, en daar was ontsnap roetes in tye van nood.








En as jy moeg is vir dit alles, is daar altyd die uitsig. 



Ek het nie foto's van kuns en beelde geplaas nie, want ek is bevrees ek sal dan nooit hier opstaan nie, dan haak my rug weer vas, en dan mis ek my laaste paar dae in Rome. As kuns jou siel voed soos myne, laat weet my. Ek kan altyd op 'n later stadium nog in stukkie byskryf.

Dis my storie vir vandag. Groete van huis tot huis, en spaar vir 'n toer deur Italië!





23 Sep. 2015

Plekke vir gode en katte.

“Rome is the city of echoes, the city of illusions, and the city of yearning.” Giotto di Bondone (Italiaanse skilder en argitek. Oorlede 1337)

Daar is nog net 'n paar dae oor van my vakansie. Nog so baie om te sien, en so min tyd. Daar is soveel wat ek wil vertel, maar dis so moeilik om stil te sit. Natuurlik verlang ek al huis toe. Ek dink ek het begin verlang voordat ek van die vliegtuig afgeklim het. Dis maar hoe ek is. 'n Huishen met 'n hart wat oorloop van dankbaarheid dat ek wel die geleentheid het om my grense te verskuif. En nog meer dankbaarheid dat ek 'n plek het om na terug te keer. Dat ek êrens kan kuier, maar dat ek tuis behóórt.

Vandag gaan ek net foto's plaas, met kort(erige) beskrywings. Ek het gister te lank gesit, en betaal vandag die prys daarvoor.

Die Panteon


Die woord Pantheon beteken losweg  'vir die gode', en  Marcus Agrippa het dit tydens die heerskappy van Keiser Augustus (27 BC – 14 AD)*  blykbaar tot eer van verskeie gode laat bou.


 Sedert die sewende eeu word dit as katolieke kerk gebruik.





Tweeduisend jaar later is die koepel van die Panteon nog steeds die grootste onversterkte koepel te wêreld. 


Op 'n ligte noot: onthou jy ons ouers het baie gesê iets sal gebeur wanneer die perde horings kry? 'n Perd het horings gekry in Rome. Gehekelde horings.


*Later meer oor Keiser Augustus

Largo di Torre Argentina 


(Ofte wel die katkolonie, en die plek waar Julius Caesar gesterf het.)
  
 

Van alle plekke wat ek in Rome beleef het, lê hierdie een my die naaste aan die hart. Hoekom? Al wat ek hoef te sê is 'katte'.  




Hier is ruïnes van 'n antieke plein en verskeie tempels. Die eerste tempel is in die derde of vierde eeu BC gebou. Dit is na bewering hier waar Julius Caesar 23 keer gesteek is, en  ontnugter gevra het 'et tu, Brute?' voordat hy gesterf het. Natuurlik is sy laaste woorde, en of hy hoegenaamd iets gesê het, debatteerbaar. Maar jy is nie hier vir 'n Geskiedenisles nie, en ek behoort betaal te word om liewer nie Geskiedenis oor te dra nie. 





'n Skematiese voorstelling hoe die plek toentertyd gelyk het:



Terug na vandag. Die ruïne is nou 'n veilige hawe vir katte, en die allerliefste dierasies lê oral tussen die brokstukke rond, salig onbewus van al die intrige wat in vervloë tye daar afgespeel het.  





Gaan lees hier meer.

Genoeg vir vandag. More vertel ek julle van 'n dorpie bo-op 'n berg.
Groete van huis tot huis!