19 Jun. 2015

Koek!

My liefste moeder het die negende Junie sewentig geword. Ek en my sussie het besluit om ir haar 'n ete te gee. Sy sal nooit so  iets ir haarself doen nie. Altyd bereid om ander te help, altyd selfopofferend, toegewyd, maar sy skuif haar eie behoeftes altyd op die agterplaat. So, ek en my sus het in 'n spanpoging gesorg vir die gepaste viering van hierdie mylpaal in ons moeder se lewe. Dis die minste wat ons kon doen.
Wat ek eintlik wil wys is die koek. Ek het maande terug op Facebook 'n breiwerkkoek gesien, en geweet: dis die een vir my altyd breiende ma. Het ure spandeer om resepte te soek, en planne te beraam vir versiering.
Voordat julle dink dit was 'n heldedaad van my kant af, dit was 'n louter vreugde. Ek het vroeër jare graag gebak, maar my noointjieskind het gou baie vaardiger as ek geraak, en ons huis se bakkery oorgeneem. Die dogtertjie wat op haar stoeltjie alles wat ek in die kombuis doen dopgehou het, kon meng en klits en roer (en mors) lank voordat sy skooltoe is. Ek weet nie hoe oud sy was toe sy haar eerste koek alleen gebak het nie, maar sy was skaars in die skool. Ek het opsy gestaan dat sy kan verbykom. Sy het haar eie troukoek gebak, 'n troukoek vir vriende, en meer verjaardagkoeke as wat ek kan tel. Gaan kyk hier an haar besondere troukoek.  Maar haar ouma se koek het ek vir myself toegeëien. Anzelle was aan die ander kant van die telefoonlyn om geduldig raad te gee, want ek is verroes, en nie naastenby op hoogte van die ongelooflike moontlikhede nie. Dis wat ek uitgerig het:

 

Ek het twee koeke gebak- 'n Duitse sjokoladekoek, en 'n wit fluweelkoek. Die sjokoladekoek het 'n vulsel gehad van geroosterde klapper en neute, en die wit koek 'n vulsel van mascarpone en wit klapper. So baie klapper want my liefste moeder is mal oor daardie malvalekkers met die klapper om. Ek het die koeke gebak en gevries, en die vulsels voor die tyd gemaak, asook die allerlieflikste bedekking van Switserse botteroom.
Die versierings was die grootste pret. Dis soos om klei te speel. Ek was nie dapper genoeg om my fondant self te maak nie, dié het ek liewer by die bakwinkel klaar gekoop. Ons het laas Vrydag al die koekgoed, die gevriesde pot goulash en bottels komkommerslaai in die kar gelaai en die pad gevat plaastoe na daar waar ek vandaan kom. Going back west. Saterdag het ek my ma uit die eetkamer verban, en die koek aanmekaar gesit. Ek het die twee koek afsonderlik versier, en dit met 'n laag waspapier tussenin opmekaar gestapel, en versier en versier en versier.



 Bolletjies wol. Lekker wol.

 'n Stuk breiwerk oor die kant drapeer. Het ongelukkig nie 'n nabyskoot daarvan gerky nie.


 En baie knopies.

Met die sny van die koek het ek eenvoudig die groter versierings afgehaal (waarvan drie en negentigjarige ouma Susie saamgeneem het ouetehuis toe) en die koeke van mekaar af gehaal. Die waspapier het 'n bietjie klam geword en hier en daar vasgesit, maar dit maak nie saak nie. Die koekpolisie was gelukkig nie daar nie.


Ma was tevrede.

Ook goed ek het voluit gegaan. Toe ek vra oor ander spesiale koeke, was daar vir my ma net twee- vir haar een en twintigste verjaardag, en vir haar troue. Dit was ander tye waarin sy grootgeword het. Maar dis nooit te laat nie.

Groete van huis tot huis!

10 Jun. 2015

Hallo!

Ek het jou omtrent lanklaas gesien. Geen verskonings nie- my tweede boek is al lankal klaar en verskyn eersdaags op die rakke. Dis 'n opvolg op Gelyke Kans. So lyk sy:



Vir 'n paar maande was ek weer net 'n poplap met 'n stoflap (en soos altyd, 'n hekelpen) maar ek het verlede week 'n nuwe boek begin skryf. Heerlik, so in die sonnetjie. Ek is op die oomblik weer my weeklikse huishulp kwyt, en dis verstommend hoeveel tyd  klein goedjies opvreet. Stadig maar seker kom ek darem weer in 'n roetine, en ek is van plan om in die toekoms  meer hier met jou te kom kuier.

Wat in die maande tussenin gebeur het:

My brombeer was weg, terug, weg, terug. Jy weet hoe dit met sy werk gaan. Volgende week gaan hy weer vir 'n maand of so weg. My gekerm dat hy minstens winters hier moet wees sodat ek agter sy wye beerrug kan slaap, het op dowe ore geval. Maar ek kla nie te hard nie. Sy werk sit brood op die tafel, en te danke daaraan kan ek my passies uitleef.
Ons het nuwe kaste in ons aantrekkamer laat insit. Dit was 'n taak van epidermiese proporsies om twintig jaar se opgaargoed uit ons ou kaste te kry, om nie eens te praat van binnedring van my spasie en die verskriklike stof nie. Maar dis nou gedoen, en dit lyk pragtig. Ek sal 'n foto wys sodra die mure geverf is.
Uiteindelik het ons ook ons klein badkamer laat oordoen, wat 'n nog groter gedoente as die kaste  was. Maar dit was ook die stof en graas werd. Ons moet nog 'n blinder vir die venster paat maak, en 'n rak of twee opsit, dan wys ek vir jou hoe dit lyk.
Verder het ek geknutsel en gelees en so bietjie geskryf.

Hier is 'n paar knutselgoed uit my wolmandjie. Natuurlik het ek nie alles afgeneem nie, dit kry soms huise voordat ek daaraan dink.  Ek plaas nie vandag die skakels nie, maar laat weet my as jy na een van die patrone op soek is, dan soek ek dit.







Die diertjies is na kindertjies by 'n plek van veiligheid. 


 Drupmatjies. Ek weet nie hoeveel ek al hiervan gehekel het nie.




My pa se eetstoeltjie het 'n nuwe kabelkussing gekry (hierdie een het nie 'n patroon nie),




 die langbeenstoeltjie het 'n sitplekoortreksel gekry (ook uit my kop uit gehekel),


en ek het 'n nuwe rusplek vir my voete gehekel (geen patroon).




 'n Vriendin se gastetoilet se gordyntjie. Ek het dit van 'n prentjie afgehekel, so daar is ongelukkig nie 'n patroon nie.


My nuutste projek in wording.

Dis dan my storie vir vandag. Groete van huis tot huis!