15 Sep. 2015

Engelse tee in Rome

Die Spaanse trappe is natuurlik op die lys van plekke om in Rome te sien. My beer het gepoog om my soontoe te neem, maar sonder sukses. Ek het viervoet vasgesteek toe ek die massas mense op die trappe gewaar. 'n Ander dag, het ek myself belowe, en geflikflooi om by die lieflike teekamer reg langs die trappe te gaan tee drink.



 Ons kon 'n maaltyd by 'n ander plek eet vir die prys van die tee en die kolwyntjie. Babingtons is baie oud, en baie baie duur. Maar voordat jy my oordeel, wil ek net sê: 'n silwer teepot met 'n katjie op die deksel.



Dis al. Nee, ek wil ook noem dat die teelepel versier is met 'n katjie. Die silwer teelepel. En die koppies is fyn en liggroen. I rest my case. Nee, wag. Ek het nie nodig om myself te verdedig omdat ek Italië swymel oor 'n Engelse teekamer nie. Dis my blog die. En ek hou van tee.



Die storie agter die storie is dat twee Engelse susters in 1893 Rome besoek het, en tee was net by apteke beskikbaar. Net by apteke! Asof dit medisyne is ... Toe maak hulle maar 'n tee-en leeskamer oop. Die lieflike plek het die twee wêreldoorloë oorleef, en die res is, soos hulle sê, is geskiedenis. Hierdie is ongelukkig die enigste foto's, maar ek sal teruggaan soontoe, spesiaal om vir julle nog foto's te neem.
Die kelnerinne dra syskouse, netjiese skoene, bloese en rompe, en hulle hare is ewe netjies in bollas. Baie prim en proper, totdat die hoofdame haar rug draai, dan giggel hulle soos bakvissies oral oor die wêreld, en praat oor kêrels. Dink ek, want ek verstaan nie Italiaans nie.
Hier is 'n volledige artikel, met baie mooi foto's.

Villa Borghese Gardens


As julle minder oor tee en meer oor Rome wil sien, stap saam met my deur die tuine van Villa Borghese bo-kant Piazza del Popola.  Ek gaan net foto's wys. Gaan lees gerus meer oor die tuine hier. Dis propvol geskiedenis, en ek beoog om die kunsmuseum volgende week te besoek.




Goethe, skrywer en staatsman


Digter, skrywer en dramaturg Pushkin







 









 

Dis dan my storie vir vandag. Rome is nie in een dag gebou nie, nie in een dag besigtig nie, en beslis nie in een dag oor geskryf nie.  Ek was intussen op met die Spaanse trappe, maar een inskrywing op 'n keer. More vertel ek julle van ons dag in Toskane. Groete van huis tot huis!


Geen opmerkings nie: