22 Sep. 2015

'n Dag in Toskane

Ek val sommer met die deur in die huis. Dis hoe die Toskaanse platteland lyk:



Montepulciano


Ons het eerste aangedoen by Montepulciano, 'n heuweldorp, nie te ver van Siena af nie.



Dis 'n prentjiedorpie wat uit die Middeleeue dateer, deurspek met Renaissance paleise, stokou kerke, sjarmante pleine, kronkelstraatjies en versteekte hoekies.

 

Dis hoog genoeg om 'n wonderlike panoramiese uitsig op die vallei daaronder te hê.



Die dorp is 'n gewilde toeriste bestemming vol interessante kaas, delikatesse, en kunswinkeltjies, en natuurlik die alomteenwoordige leerwinkels.




Stukke Romeinse en Etruskiese kuns ingemessel in die buitemure van die Bocelli Paleis.


 O, en hier is 'n foto van my en my beer met die vallei agter ons, sodat julle kan sien hierdie is nie een van my wilde verbeeldingsvlugte nie.



Sant'Antimo Klooster

Vanaf Montepulciano is ons na 'n klooster, Sant’Antimo, waar ons betyds was om Gregoriaanse kerksang van vier monnike te hoor in 'n baie onopgesmukte kerk vol vrede.






Wingerde van Montalcino

Ons het middagete by 'n wyn en olyf-landgoed geëet, waar ons verskeie wyne kon proe, saam met eg Toskaanse geregte.







Pienza

Hiervandaan is ons na Pienza. Pous Pius die Tweede is hier gebore, en die Pienza beteken die Stad van Pius. Toe Pius as Pous verkies is in 1458 het hy 'n versugting gehad om sy geboortedorp in 'n Utopia te verander, in 'n gemeenskap wat in harmonie en vrede kan saamleef. Hiervoor het hy argitek Bernardo Rossellino in diens geneem. Die konstruksie van die dorp, bo-op die antieke dorpie waar Pius gebore is,  het in 1459 begin, en het vier jaar geneem om te voltooi. Na die ontydige dood van Pous Pius het die dorp grotendeels onveranderd gebly.



 


In die nou klipstrate sit winkel-eienaars op stoeltjies wat maar vir my ongemaklik lyk voor hulle winkels en kuier met hulle bure.

 

Prentjie -mense in prentjiestrate tussen potte blomme teen ou ou geboue wat ek nooit kan vergeet nie.



 

Dit voel asof daar 'n stukkie van my in elke dorpie agterbly. Dis miskien waar, maar  wat my soveel ryker maak, is dat ek 'n stukkie van elke plek met my saamneem.

Tot volgende keer. Groete van huis tot huis.

1 opmerking:

Mario het gesê...

Grazie per le foto dalla istorica Roma,sono belisime.