14 Sep. 2015

Rome

“Yes, I have finally arrived to this Capital of the World! I now see all the dreams of my youth coming to life… Only in Rome is it possible to understand Rome.” Johann Wolfgang von Goethe , Duitse skywer 1749-1832)


Dis 'n grys, klam dag in Rome. Die koeler weer is welkom, want tot nou toe was dit regtig warm. Nie die droë hitte van daar waar ek vandaan kom nie, daardie hitte wat alles verskroei nie, maar 'n digte, vogtige hitte, soos hoogsomer in Durban. Die humiditeit is dikwels 97% . Die hoogte bo seespieël hier wissel van 13 meter by die Pantheon, en 139 m by die piek van Monte Mario. Ek het gesukkel om gewoond te raak aan die hitte, siende dat ek 'n boorling is van Vryburg digby die Kalahari, en het grootgeword  in die dorre Wes Transvaal, op Schweizer- Reneke. Waar ons nou in Centurion woon, is die weer lieflik, en die vog in die lug (meestal) net reg. Maar ek dwaal af. Julle het nie 'n weerverslag kom lees nie.

Ek is geen Goethe nie, maar ek verstaan presies wat hy bedoel. Ek sal alles wat ek sien, en ervaar  met julle probeer deel. Ek is ver van my woordeboeke af en 'n bietjie lui, so ek gaan die Italiaanse name gebruik. As jy die regte vertaling het, en dit wil deel, laat gerus vir my 'n boodskap. Ek leer graag.

Ons het die 29ste Augustus hier geland, op 'n Saterdag, betyds om die stert van die Somer te vang. Die Sondag een van die oopbustoere gedoen, sodat ek 'n oorsig kon kry van die stad.
Later, na die busrit, het ons so 'n bietjie rondegloop. My Brombeer werk al vir 'n rukkie hier, so hy is 'n ware aanwins as toergids.

Piazza del Popolo



Hierdie is Piazza del Popolo, die plein van die mense. Voor spoorvervoer bestaan het sou dit  reisigers se eerste blik op Rome wees, en dit was ook waar  openbare teregstellings gedoen is.

Basilica Santa Maria del Popolo


 

Die  Basilica of Santa Maria del Popolo is aan die noordelike kant van die plein, en 'n indrukwekkende versameling kunswerke van o.a. Raphael, Bernini, en Carravagio kan hier besigtig word.Die kerk is hier gebou in 1099, vergroot in 1235, en verander tussen 1472 en 1477, en dei fasade soos dit nou lyk is gebou tussen 1655 en 1660.

Maar dis vervelige feite. Hier is foto's. Onthou ek  plaas wat vir my spesifiek mooi is, nie wat noodwendig histories belangrik is of van besondere waarde is nie:







 dan een van die drie Carravagios's wat hier hang:

 
En kyk na die loodglas venster bokant die skildery!

Tweelingkerke

 
Die tweelingkerke, Santa Maria dei Miracoli, gebou in 1681 en Santa Maria in Montesanto, gebou in 1679, is ook op hierdie plein.



'n Obelisk 

 
In die middel van die plein staan een van die alomteenwoordige obeliske, die een die tweede hoogste in Rome. Ek kon nie 'n mooi foto daarvan kry nie, want hulle is besig met restourasie. Hierdie een is die eerste een wat Rome toe gebring is uit Egipte, 10 BC, deur Keiser Augustus oor wie ek julle later nog meer sal vertel.

En, uiteindelik, Gelato


Ek het nie 'n foto van my eerste Gelato nie, maar die plesier daarvan is nog duidelik in my geheue. Pistachio was dit, en dis alles wat almal wat al in Italië was, my belowe het.

Wat is die verskil tussen Gelato en roomys, vra jy my? Gelato is immers die Italiaanse woord vir roomys. Moenie jou laat flous nie. Gelato is nie roomys nie. Dis 'n gevriesde heerlikheid, ja, maar roomys soos ons dit ken, beslis nie. Ek gaan nie die verskille hier bespreek nie, maar jy kan self hier  gaan lees.
'n Mens moet mooi kies voordat jy 'n gelateri kies, maar ek het gelukkig obsessief daaroor gelees, en ek het geweet waarna om te soek:

1) Gelato in velkvryestaalbakke wat met deksels toegemaak word. Nie die indrukwekkende gekleurde wolke wat hoog gestapel staan nie. Die rede is eenvoudig: In hierdie hitte sal daardie berge roomys smelt as dit nie vol verdikkingsmiddels en lug is nie.  Die ware jakob is in toe, verkoelde bakke.
2) Kleur. Natuurlik. Helder blou is nie natuurlik nie. Nooit nie. Pistachio neute is vaalgroen, nie helder paddagroen nie. En piesangs is nie helder geel nie. Tensy as hulle die Gelato van die piesangskil maak, in welke geval jy dalk tweemaal moet dink.
 
As jy hierdie riglyne volg wag daar vir jou 'n heerlike flirtasie. Persoonlik hou ek die meeste van die klapper. Dit kos tussen 2 en 3 €, en ek dink dis elke € werd.

 Maar selfs minder goeie Gelato is lekker in Italië, het ek my laat vertel.


Ek sal more verder vertel. Groete van huis tot huis!

Geen opmerkings nie: